Sunday, August 3, 2025

Quilt retreat

KWILT RETREAT NAWEEK: 16-18 MEI 2025

Die OKG het ‘n heerlike kwilt-retreat gedurende die naweek van 16 tot 18 Mei 2025 by die Jak Strydom Natuurreservaat langs die Oranje-rivier gehou.






Twintig entoesiastiese kwilters van Bloemfontein en Aliwal-Noord het die naweek bygewoon. Die tema van die retreat was “Ken jou kurwes”, en twee kursusse is aangebied: “Slow stitching” deur Lizl Peyper en ‘n masjienstikkursus deur Nelia Venter.





Die naweek was die ideale wegbreek uit die stad se gewoel – ‘n kans om te ontspan met lappies, naalde en gare tussen die vingers. By aankoms was die groep aangenaam verras met die ruim en gerieflike akkommodasie: twee groot huise met verskeie kamers, elk met ‘n ruim leefarea waar daar na hartelus gestik kon word. Elke groepie het hul eie spyskaart beplan vir die naweek en kon hulself behoorlik tuismaak.

Frances van Schalkwyk

Mari du Toit

Christa Gouws en Emmarentia van Greunen











Christa Gouws en Frances van Schalkwyk

Mari Strydom

Lorene Erwee

Marianne le Roux

Esta Knoetze en Frances van Schalkwyk

Ilse en Christelle

Lizl Peyper




Ria Senekal

Emmarentia van Greunen




Vrydagaand is daar gesellig om die boma gekuier, waar Esta ‘n heerlike braaivuur aangesteek het. Die vrouens het fluks hul eie vleis gebraai en gesellig saamgekuier. Die tweede aand is daar weer om die vuur gekuier – daar is gebraai, geklets, gelag en lekker ontspan. 




Later die aand, ná die braai, het Nelia vir ‘n paar dames gewys hoe om pragtige borsspelde van lap en lint te maak, en die lappies is nog ‘n rukkie bewerk voordat almal moeg, maar opgewonde, gaan slaap het.



Neila Venter


Gerda Conjé, Christine Von Wielligh, Mari Strydom en Esta Knoetze


Na ete het Ria Senekal die groep genooi om weer buite by die boma bymekaar te kom – hierdie keer vir ‘n speletjie wat ‘n bietjie kreatiwiteit en buite-die-boks-dink verg. Sy het die reëls verduidelik en toe het ons begin speel: “Jan met die stywe vinger”. Elkeen moes die een langs haar vra: “Ken jy vir Jan met die stywe vinger?” en dan ‘n snaakse toevoeging maak – soos dat hy ‘n skewe been of seer kop gehad het. Die lag het behoorlik gebars – sommige het hulself natgelag! Dit was ‘n heerlike, sorgvrye ontlading wat almal se spirits ligter gemaak het. Nog speletjies is sommer spontaan uitgedink en het gesorg vir hope lag en pret.






Saterdagoggend het Lizl haar “Slow stitching”-werkswinkel in die een huis aangebied. Sy het ‘n verskeidenheid lappies, linte en toebehore saamgebring, asook vir elke deelnemer ‘n mooi saamgestelde pakket gegee waarmee hulle hul eie kreatiewe meesterstuk kon begin bou. Met naald en gare, krale en borduursteke is daar hard gewerk – die kreatiwiteit het gevloei en die tyd het gevlieg.




Gerda Cronjé en Nelia Venter

In die ander huis het Nelia haar masjienstik-werkswinkel aangebied. Sy het die “Cathedral window”-ontwerp vir ‘n kussing gedemonstreer, met twee kontrasterende lappies wat verskillende ontwerpe moontlik gemaak het. Daar is ook gewys hoe om ‘n “invisible zip” stap-vir-stap in te werk. Elke deelnemer se kussing het uniek en kreatief voorgekom.

Na afloop van die kursusse was almal vol inspirasie en gereed om weer hul kreatiwiteit verder te ontwikkel. Later die middag is daar ‘n bietjie gaan stap tot by die rivier – ‘n welkome blaaskans ná die lang dag van sit en werk.

Sondagoggend het sommige reeds vroeg vertrek, terwyl die res in die een huis nog geskenkies uitgeruil het. Só is ‘n besonderse naweek afgesluit – propvol inspirasie, pret en nuwe moed vir die week wat voorlê.


‘n Groot dankie aan OKG, en spesiaal aan Nelia wat hierdie wonderlike naweek so mooi beplan het. Ons sien uit na nog vele sulke geleenthede!



Quilt retreat

KWILT RETREAT NAWEEK: 16-18 MEI 2025 Die OKG het ‘n heerlike kwilt-retreat gedurende die naweek van 16 tot 18 Mei 2025 by die Jak Strydom ...